In ‘n slordige en vervelige wedstryd het die Bokke die Poemas, se eerste proeseltjie van suidelike halfrond menere, geklop. Dit was egter niks om oor huistoe te skryf nie en soos altyd lyk dit of die All Blacks soos gewoonlik die kampioen sal word.
Die Bokke se wedstrydpatroon bly oninnoverend en voorspelbaar. Dit is goed om die Stormers se verdediging na te boots en geen driee in te laat nie. Tog is dit kommerwekkend dat die Bokke se aanvalsplanne gebasseer is op lugskoppies van die Bulle en geen ‘starter moves’ van die Stormers. Dit gaan nie goed genoeg wees om nommer 1 te raak nie. Die Sharks het gewys hoe die Bokke moet speel, maar daar was niks van die SA se nuwe Vlagskip gesien in die ‘bloudruk’ nie.
Bismarck du Plessis (uit vir die res vd jaar), se besering, na hy geduik was sonder die bal, kan aangevoer word vir die 3 balle wat die Bokke op hul eie ingooi verloor het. As individue was Eben Etsebeth, Willem Alberts en Marcell Coetzee goed in die duikslag en baldra afdelings. Adriaan Strauss was baie woelig in die vastelos en my Man vd Wedstryd. Andries Bekker was puik in die lynstane en het af- en inskoppe met gemak ala Victor Matfield gevat. Tog was die Bokke se skrums maar eish en het hul nie as ‘n pak saamgespeel en stempel afgedruk nie.
Morne Steyn se visier was weer ingestel maar dit was die Poemas en sy spelstyl is te diep en nie deurdringend genoeg om die lyn te kan sny nie. So, ja, teen die Poemas kan hy speel maar dit gaan nie die Bokke die wereld ‘brekers’ maak nie. Net so vir die wat my nie glo nie. Peter Grant word altyd gekritiseer omdat hy nie genoeg afstand kry met skoppe nie. Hoeveel keer het ek al verduidelik dat jy kan nie Grant met Steyn vergelyk nie, want laasgenoemde speel baie wedstryde op sy tuisveld hoog bo seevlak. Steyn het gister ook nie die Poemas met rente terug gestuur nie, nog minder was sy taktiese skopwerk in die Naas Botha klas. Verskeie skoppe was reguit broodmandjie toe.
Frans Steyn word nou net ‘n Trevor Halstead, ‘n ‘crash ball’ senter. Hy dink nie eers daaraan om uit te gee nie, so wie moet hier blameer word? Die Bok wedstrydplan en strukture? Bryan Habana was soos altyd woelige en sy grootste bate bly werksverrigting. Hopelik sal iemand hom leer om sy man met minimum spasie aan die buite kant te klop. Kyk hoe maklik het die All Blacks twee maal vir Kurtley Beale laat ‘stilstaan’!
Ruan Pienaar moet nou begin. Francois Hougaard is ‘n briljante speler maar ‘n skrummie se basies plig is om die oond suiwer skoon te maak. Ja, die Bokke se pak het nie lekker saamgewerk daar nie, maar sy aangee behels altyd twee tree voor hy uitgee en sy aangee na sy regterkant is net so swak soos Sarel Pretoruis. Sy linkerhand is nie sterk genoeg om die rol aksie doeltreffend te doen nie. Soms gebruik hy ook sy dominerende regterhand vir die rol aksie na sy swakker regterkant. Dit veroorsaak dat die bal vorentoe en weg sweef vanaf die ontvanger. My probleem egter, indien Hougaard as vleuel gekies gaan word, dan dra Meneer Meyer se rede dat Gio Aplon te klein is vir toetsrugby, nie water nie.
Die Bokke se onvermoe om ‘n bonuspunt vir ‘n 4de drie te kon kry gaan nog by hul spook. Weereens, het Nuweland daarmee iets te doen? Hoeveel keer word daar 4 of meer driee op Nuweland gedruk?
Baie geluk aan nuwe Springbokke, Pat Cilliers en JJ Engelbrecht.
Die wereldkampioene, All Blacks, het soos verwag die Wallabies maklik geklop. Om die All Blacks te klop sit nie in baie lande se broek nie;om die statistieke aan te haal is daar sekere lande wat dit nog nooit reg gekry het of ooit sal reg kry nie!
Die feit dat Robbie Deans eerder wou verdedig, deur Anthony Faainga en Rob Horne te kies, was ‘n voorspelbare flater. Ja, die All Blacks is die mees vaardigste span op die planeet en kan enige nasie stukkend hardloop. Jy moet die Berlynse muur he om ‘n kans te staan. Jou oond moet ook warmer wees as hulle sin, jou lynstaanspringers moet kan lugfotos neem en jy moet die kontak- en grond oorlog probeer wen. Dit is ook nie altyd genoeg nie. Jy moet ook hul in die oe kan kyk; maar om die All Blacks te klop moet jy die ‘arm druk’ wen asook hul verdediging toets. Kiwis weet hoe om toertjies te doen en hul het die voetwerk om Fred Astaire te laat glimlag. Hul word egter te min regtig op verdediging getoets en dit is waar hul kwesbaar kan wees. Dit is hier waar Deans die toets voor die afskop gedop het. Quade Cooper as generaal is soos die lotto, maar ten misnte het jy ‘n kans!
Sonny Bill Williams is genoeg deur Faainga gelem, die een manier wat jy sy ‘offloads’ verminder, is deur hom laag te lak. Ma’a Nonu is heel jaar van vorm af en ook nie ‘n buitesenter nie, so verwag meer vuurwerke agter van die kiwis as Conrad Smith en/of Richard Kahui eendag weer die swarttrui aantrek.
Die Wallabies het nou ‘n groot agterstand. Om die Kampioenskap te wen moet jy ten minste jou tuiswedstryde wen en hoop om minimum ‘n bonuspunt met jou wegwedstryde te kry. Die Bledisloe- en Kampioenskapbekers blyk alreeds of dit langs die William Webb Ellis gaan pryk.
Recent Comments